Bosluiskoors in Honde

Babesia canis in a red blood cells

Bosluiskoors en bosluise

  • Bosluiskoors (of soms galkoors genoem) is ‘n siekte wat veroorsaak word deur ‘n parasiet genaamd Babesia canis rossi, of kortweg B. rossi.
  • B. rossi parasiete word oorgedra deur die geel hondebosluis. Nie alle geel hondebosluise is draers van babesia parasiete nie. Die geel hondebosluis word besmet wanneer dit bloed suig van ‘n hond wat bosluiskoors het. 

Siektetekens van bosluiskoors

Die eerste tekens wat eienaars van honde gewoonlik opmerk by honde met bosluiskoors, is lusteloosheid en verlies van eetlus. Ander algemene tekens wat ook deur die eienaar opgemerk mag word, is bleek tandvleise en bleek oogslymvliese.

 

Sommige bosluiskoors pasiënte ontwikkel gekompliseerde  bosluiskoors waar verskeie organe, waaronder die hart, niere, lewer, maag en ingewande, brein en longe aangetas word. Hierdie komplikasies ontwikkel a.g.v. toksiese stowwe, bekend as oplosbare parasiet antigene (OPA’s) wat deur die babesia parasiet afgeskei word. Hierdie pasiënte word gehospitaliseer en benodig duur, intensiewe behandeling. Ongeveer 10 tot 12% van hierdie gehospitaliseerde gevalle gaan dood en ‘n verdere 2 tot 3% moet uiteindelik uitgesit word.

 

Hoe diagnoseer veeartse bosluiskoors

Veeartse diagnoseer bosluiskoors deur die parasiete op ‘n bloedsmeer onder ‘n mikroskoop waar te neem. Die bloedsmeer word gemaak deur ‘n druppel bloed uit die punt van die hond se oor te neem.

 

Behandeling

Nie-gekompliseerde gevalle sal gewoonlik behandel word met ‘n anti-protozoïse middel soos Berenil RTU (Reg No. G2702 Wet 36/1947) of Forray 65 (Reg No. G1442 Wet 36/1947)

 

Gekompliseerde gevalle met meervoudige orgaanbetrokkenheid sal hospitalisasie en intensiewe behandeling soos bloedoortappings, aarvoeding, kortisoonbehandeling, buisvoeding, suurstofaanvulling en sedasie benodig.

 

Die geel hondebosluis

  • Die geel hondebosluis suig meesal op die nek en skouers van honde vas. Indien daar egter groot hoeveelhede bosluise voorkom, mag hulle elders op die hond se lyf voorkom.
  • Die geel hondebosluis spandeer egter 94 tot 97% van sy lewe weg van die gasheer af en dit maak hul kontrole baie moeilik.
  • Die toediening van bosluisbeheer middels slegs op die hond is dus nie voldoende om die geel hondebosluis te beheer nie.
  • ‘n Geïntegreerde beheerstrategie wat beheer van die bosluis op die hond en in die omgewing insluit, word vereis. Inenting teen bosluikoors kan verder bydra tot die beheer van bosluiskoors in honde.

Voorkoming: Omgewingsbeheer

 

  • Voorkom ‘n bosluishabitat deur:
    • Gras en onkruid kort te sny
    • Krake en barste te verseël
    • Beddegoed gereeld te was
    • Produkte wat vir bosluisbeheer in die omgewing geregistreer is in hokke te gebruik 

Voorkoming:  Bosluisbeheer op die hond

Daar is ‘n wye reeks aandep (“spot on”) formulasies, sjampoes, dippe, poeiers, sproeie en geïmpregneerde halsbande beskikbaar. Dit is belangrik om te let op hoe dikwels die produk wat jy kies, herhaal moet word om steeds effektiewe bosluisbeheer te voorsien. Versoek jou veearts om jou behulpsaam te wees met die keuse van die beste produk vir jou troeteldier. 

Voorkoming:  Inenting

Inenting as deel van die geïntegreerde bosluisbeheer strategie, is ook beskikbaar. Vra jou veearts meer inligting oor Nobivac® Piro (Reg.No. G3755 Wet 36/1947, N-SR 1368).