MSD Animal Health
MSD Animal Health is ‘n internasionale leier in dieregesondheid. Die maatskappy fokus op navorsing, ontwikkeling en die bemarking van innoverende en hoë kwaliteit dieregesondheidsprodukte.
Die produkreeks bestaan uit entstowwe, antiparasitiese-, antimikrobiese- en hormonale middels vir estrus sinkronisering en die bevordering van teelprestasie sowel as groeibevorderaars en voerbyvoegsels vir herkouers, geselskapsdiere, varke en hoenders.
MSD Animal Health was nog altyd 'n navorsingsgedrewe maatskappy en is die enigste Suid-Afrikaanse maatskappy met 'n eie navorsingseenheid.
Die proefplaas te Malalane is ten volle geakkrediteer en is verantwoordelik vir beide plaaslike asook internasionale navorsing en produk ontwikkeling.
Die Malalane Navorsingseenheid is in die skilderagtige Kaalrugvallei van die Mpumalanga Laeveld geleë - 26 km vanaf die suidelike grens van die Nasionale Kruger Wildtuin. Die primêre aktiwiteite by die navorsingseenheid is die ontwikkeling en evaluering van nuwe inwendige- en uitwendige parasietmiddels. Die weidings is natuurlik met bosluise besmet en die plaaslike beeskudde is die ideale model om die effektiwiteit en veiligheid van die middels te toets. Bosluise word ook vir weerstand teen die verskillende uitwendige parasietmiddels getoets en boere word geadviseer oor watter middels om te gebruik.
‘n Bosluisbestuurstelsel is ontwikkel om boere van raad te voorsien. ‘n Laboratorium op die plaas, waar dipmonsters ontleed word, verskaf ‘n vinnige en gratis diens aan Suid-Afrikaans boere. Verbruikers van MSD Animal Health se middels word oor die sterkte van die dippe wat gebruik word geadviseer en indien nodig, watter aanpassings gemaak moet word. Hierdie eenheid is in die voorste linie wanneer dit by die toetsing van wurms vir weerstand teen inwendige parasietmiddels kom. Miseiertellings word gedoen om boere te adviseer oor watter inwendige parasietmiddels gebruik kan word. Inligtingsdae word gereeld gehou om boere en ander belangegroepe oor die nuutste ontwikkelinge in siektebeheer in te lig.
Die MSD Animal Health Verkoopspan word deur die Veterinêre Dienste Departement en nege hoogs gekwalifiseerde veeartse bygestaan. Hierdie individue voorsien kundigheid in hul onderskeie gespesialiseerde velde soos herkouers, geselskapsdiere, varke en hoenders.
MSD Animal Health se visie is om diensgedrewe te wees en om Suid-Afrikaanse boere van optimale oplossings vir al hul dieregesondheidsbehoeftes te voorsien.