Nobivac® Piro

Nobivac® Piro (Reg No. G3755 Wet 36/1947, N-SR 1368) is die eerste bosluiskoors entstof in Suid-Afrika. Die entstof bevat oplosbare parasiet antigene (OPA’s) van B.rossi en B. canis . Die entstof bevat dus nie die ware babesia parasiete nie. OPA’s is toksiese stowwe wat deur die babesia parasiete vrygestel word en hierdie SPA’s is verantwoordelik vir die siektetekens, asook die veelvuldige orgaandisfunksie wat met die a-tipiese of gekompliseerde vorm van bosluiskoors waargeneem word. Veelvuldige orgaandisfunksie ontstaan deurdat die SPA’s aanleiding gee tot  klontvorming van die rooibloedselle, verminderde bloeddruk, verminderde bloedvloei en minder suurstofvoorsiening aan die organe. Deur met Nobivac® Piro in te ent, beskerm die enstof geïnduseerde immuniteit teen die uitwerking van die OPA’s in geïmmuniseerde honde. Die indikasies van die entstof is dus om die felheid van bosluiskoors se siektetekens te verminder. In ‘n proef wat plaaslik onderneem is, is honde ingeënt en daarna met bosluiskoors parasiete besmet. Hierdie ingeënte honde het ‘n betekenisvolle vermindering in kliniese tekens, plasma OPA vlakke en die hoeveelheid parasiete in die rooibloedselle getoon en het almal sonder behandeling herstel. Die kontrole honde wat nie ingeënt is nie, moes behandel word om hul dood te voorkom.

Nobivac® Piro se werking as entstof verskil geheel en al van entstowwe wat oor die algemeen gebruik word (bv. Parvo en Distemper tipe entstowwe). Daar moet dus duidelik verstaan word dat honde wat met Nobivac® Piro ingeënt is, moontlik steeds deur die Babesia parasiet besmet kan word, maar vooraf inenting volgens die voorgeskrewe skedule sal tyd laat om te behandel; gekompliseerde gevalle mag voorkom word; die bosluiskoors siektetekens sal minder ernstig wees en vrektes mag voorkom word.

Bosluisbeheer bly noodsaaklik by ingeënte honde, aangesien die geel hondebosluis 94 tot 97% van sy lewe weg van die gasheer in die omgewing deurbring. Daarom kom slegs ongeveer 5% van die geel hondebosluisbevolking op honde voor. ‘n Geïntegreerde beheerstrategie is nodig om bosluiskoors te wen! ‘n Geïntegreerde strategie sal die volgende behels:

  • Inenting met Nobivac® Piro vanaf 6 maande ouderdom. Om die basiese inentingsprotokol te voltooi, word ‘n skraagdosis 3 tot 6 weke na die aanvanklike inenting benodig. Daarna word herinenting elke 6 maande benodig.
  • Habitatbeheer – verseël krake en barste in hokke; hou gras en onkruid kort; gebruik bosluisbeheer produkte in die hokke; was beddegoed gereeld.
  • Effektiewe bosluisbeheer op die hond. 

Vra jou veearts vir meer inligting aangaande die gebruik van Nobivac® Piro.